Superrugby se groot trapmekaar hervat

Suid-Afrika se ses spanne in die Superreeks hervat dié naweek hul groot trapmekaar, maar die opwindendste rugby sal seker in die tweede toets tussen Nieu-Seeland en die Britse en Ierse Leeus gespeel word.

Veral die Stormers en die Sharks, wat onderskeidelik teen die Cheetahs en die Bulls speel, kan eenvoudig nie nóg nederlae bekostig nie.  

Al dié wedstryde word regstreeks op televisie uitgesaai, net soos die Tour de France, wat Saterdag begin, en vier belangwekkende gholftoernooie. 

Een daarvan is die Amerikaanse kampioenskap vir seniors (ouer as 50), wat Gary Player in 1987 en Simon Hobday in 1994 gewen het.

Tien Suid-Afrikaners ding mee in die Franse Ope, wat al nege keer deur SA spelers gewen is ‒ twee keer elk deur Retief Goosen, Bobby Locke en Sid Brews en ook deur Denis Hutchinson, Dale Hayes en Vincent Tshabalala.