TV-kykers sal besluit of dié geveg boks is

Lank nadat dié naweek se internasionale rugby klaar geherkou afgesluk is, sal daar nog oor die geveg tussen Floyd Mayweather en Conor McGregor geredekawel word.

Mayweather, ʼn onoorwonne bokskampioen, en McGregor, ʼn ewe bekkige held in vegkuns, baklei Sondagoggend, SA tyd, in Las Vegas. Of dit boks of ʼn blote geldmaakspulletjie is, sal gedurende die regstreekse TV-dekking duidelik word.

Die Springbokke se wegwedstryd teen Argentinië en die All Blacks se tuiswedstryd teen Australië is twee van die 17 kragmetings waarna rugbyliefhebbers dié naweek op TV kan kyk.

Daarby sal die Belgiese Grand Prix vir renmotors en die Britse kampioenskap vir motorfietse gewis groot opwinding oplewer.