Sport dryf SA bevolking weer in twee kampe

Een van die skeidslyne wat Suid-Afrikaners dikwels in twee kampe verdeel, lê dié naweek weer so duidelik soos die Grootrivier oor die landkaart.

Aan die een kant sal ʼn beduidende deel van die bevolking stelling inneem om op televisie na Superrugby te kyk. Aan die ander kant sal derduisende oral saamtrek om te kyk hoe Kaizer Chiefs teen Orlando Pirates sokker speel.

Die rugby in Johannesburg, waar die Lions en die Hurricanes om ʼn plek in die eindstryd meeding, én die sokker tussen die tradisionele aartsvyande van Soweto word regstreeks uitgesaai.

So tusendeur sal baie kykers ook gereeld oorskakel om te sien hoe Suid-Afrika en Engeland se krieketspanne mekaar in die derde toets in Londen opkeil. 

Curriebekerrugby en die Hongaarse Grand Prix is van die ander warm sport wat op TV uitgesaai word.