Plasies kruis stokke in hokkiefinaal

21 June 2018  Read: 92

 

Na verskeie uitdaag wedstryde gedurende die week, het Plasieland se hokkiebokkies verlede naweek, aan die Limpopo semi-finaal op Pietersburg Hoërskool se velde deelgeneem.

Met ‘n skittervertoning het die O/14’s die provinsie laat kennis neem toe hul Hoërskool Ellisras met ‘n allermintige 6-1 geklop het. Hierdie belowende juniorspan speel hierdie komende naweek teen Hoërskool Ben Vorster in die finaal en sal later in die Noordvaal-toernooi te sien wees.

Die Plasie O/15-span moes as gevolg van ‘n enkele doel terugstaan teen Hoërskool Frikkie Meyer toe dié hul met 3-4 geklop het. Die span sal egter in die Limpopo finaal vir die derde-plek uitspeel teen Hoërskool Ben Vorster, ten einde die Noordvaaltoernooi te haal.

Na ‘n taai stryd, wat oorgegaan het in ‘n 8-sekonde uitklop, het die O/16’s met 2-1 daarin geslaag om Hoërskool Ben Viljoen van Groblersdal kous oor die kop huis toe te stuur. Dié span speel ook, soos die O/14’s, teen Ben Vorster in die finaal en gaan deur na die Noordvaal-toernooi.

Op die seniorfront was sake nie so roos-kleurig nie. Die Tweede-span moes met ‘n 2-3 telling teen Frikkie Meyer tevrede wees. Die Eerste-span kon ook nie op die dag teen Ben Viljoen kers vashou nie en stap 0-5 van die veld af. Nog is dit het einde niet, want Stanford Lake College moet in die Limpopo finaal oorwin word om Derde-plek in Limpopo te beklee en sodoende vir Noordvaal te kwalifiseer.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first