Steeds onoorwonne!

18 June 2018  Read: 60

 

In die laaste tuiswedstryd van Ben Vorster se Virseker Beker veldtog om die gesogde Skuld in Afdeling 1 te lig, het die Vossies hul wenlopie voortgesit deur met agt van die 10 Hoërskool Lichtenburg spanne die naweek af te reken.

Soos oudergewoonte het die senior-spanne hulself goed van hul taak gekwyt en goeie, skoon hardlooprugby opgedis. Terselfde tyd het die juniorspanne deur hul individuele spel ‘n belofte aan die plaaslike rugbyliefhebbers oorgedra – die toekoms van rugby op plaaslike vlak pyl af op ‘n baie belowende toekoms.

Die junior O/14A-span was met die intreëslag van hul kragmeting deur die brute krag van ‘n baie groter opponent oorweldig, maar het vinnig van taktiek verander om die spoed van hul agterlyn as teenmiddel aan te wend. Dit het voordelig vir die Vossies uitgewerk wat die wedstryd toe met 48-33 gewen het. Hul B-span het hul wedstryd met 42-0 gewen.  

Met die O/15-spanne was dit ‘n bietjie van ‘n melancholiese affêre na ‘n 38-22 terugslag vir die B-span. Die O/15A-span het sonder twyfel die moeilikste stryd van hul seisoen teen Lichtenburg gestry om uiteindelik met agt punte en ‘n telling van 18-10 te seëvier.

Die O/16A-span was lus vir hardloop en het gewys dat hulle nie sommer vanjaar gekeer gaan word nie.  Hulle het met ‘n ongelooflike 114 – 12 gewen terwyl hul B-spanmaats met ‘n telling van 53-5 vir Lichtenburg huistoe gestuur het.

By die senior groep het die derde span hulle rieme styf geloop teen ‘n omgekrapte Hoërskool Lichtenburg en 5 – 46 verloor.  Die Vierde span behou hul onoorwonne status (en ook die spogregte van die enigste skool in die streek met ‘n Vierde-span) deur met 28 – 3 gewen. Die Tweede span het ook ‘n strawwe wedstryd gehad, maar het 29 – 11 gewen.

Ben Vorster se eerste span, wat die afgelope paar naweke ‘n klomp weghol-oorwinnings gehad het, het egter teen ‘n hoogsgemotiveerde Hoërskool Lichtenburg te staan gekom, wat ook tot voor Saterdag onoorwonne in die Virseker Beker was.

Die Vossies het die telbord oopgemaak deur eerste punte aanteteken te danke aan twee strafdoele van die senter, DJ du Preez. Daarna het Ben Vorster genadeloos die een aanval na die ander op die besoekers se doellyn geloods. Hoërskool Lichtenburg se verdediging kon nie aanhou keer nie en eindelik het die vleuel, Melvin Maake, die opposisie gesystap om die Vossies se eerste drie te druk.

Du Preez het vervyf en die Vossies was 13 – 0 voor.  Hierna het Hoërskool Lichtenburg aangeval vir ‘n vale en die Vos-sies se hoofseun en buitesenter, Christiaan Smit, het egter omkeer besit gekry en oor die lengte van die veld genael vir die Vossies se tweede drie.  

Du Preez het verdoel en die Vossies was 20 – 0 voor. Met die halftyd sirene, het Hoërskool Lichtenburg geantwoord met ‘n drie van hul eie. Die tweede helfte het op ‘n slegte noot vir Ben Vorster begin toe die kaptein, CJ Erasmus, ‘n geel kaart gekry het, maar die Vossies, met slot Rikus Nel, aan die voorpunt het goed verdedig en Hoërskool Lichtenburg kon net nie deurkom plek kry nie.  Met sowat sewe minute oor was dit die Vossies se giftige heelagter, Jason Mulder, wat gaan druk het om die telling 25 – 5 te maak.

Hoërskool Lichtenburg (die huidige Noord-Wes kampioene) het egter nie gaan lê nie en dadelik teruggeantwoord met ‘n verdoelde drie om die telling 25 – 12 te maak. Ben Vor-ster het ‘n vierde drie vir ‘n bonuspunt gesoek en ‘n aanval geloods op die Lichtenburglyn.  Met tyd verstreke was dit die agsteman, Thapelo Ramoshaba, wat oorgeduik het na goeie spel van die flank, Morne Horn. Die Vossies het die wedstryd 30 – 12 gewen.  

Ben Vorster sal nou hul sege moet voort sit in ‘n wegwedstryd teen Middelburg.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first