Vossies is Limpopo se Fast 5-netbalkampioene

12 September 2017  Read: 34

 

Die O/15- en O/17-Limpopo Fast 5-netbalkampioenskappe, wat op 2 September in Polokwane plaasgevind het, is hierdie jaar weereens deur die Hoërskool Ben Vorster oorheers. Die Vossies se O/15A- en O/17A-spanne het geen gelyke op die dag gehad nie en het as Limpopo-wenners uit die stryd getreë. Die O/15B-span, wat teen hulle eie A-span in die finaal verloor het, is naaswenners en die O/17B-span het in die semi-finaal teen hulle susterspan verloor.

Die Vossies se O/15A-span het in hulle poel wedstryde vir Merensky 24-8, vir Northern Academy 35-6 en vir Tom Naude 35-8 gewen. Hulle het in die semi-finaal teen Morwathebe gespeel en die wedstryd gemaklik 23-12 gewen. Die O/15-finaal was ‘n stryd tussen ‘susterspanne’, met die Vossies se A- en B-spanne wat teen mekaar te staan gekom het. Die A-span het die wedstryd 25-12 gewen om as die Limpopo O/15-kampioene gekroon te word.

Die O/15B-span het in hulle optog tot die finaal met Heuwelkruin 21-2 afgereken en Nylstoom 24-14 en Morwathebe 18-17 gewen. Hulle semi-finaal wedstryd was teen Merensky vir wie hulle 17-15 afgereken het.

Die Vossies se O/17A-span het gewys hoekom hulle die Nasionale Fast 5-kampioene is.
Hulle het in die poel wedstryde vir Merensky 25-16, vir Northern Academy 38-5 en vir Tom Naudé 27-7 gewen. Hulle het in die semi-finaal teen Ben Vorster se O/17B-span te staan gekom en die wedstryd 26-14 ge-wen. Hulle finaal was teen Heuwelkruin wie hulle 26-23 gewen het.

Baie geluk aan hierdie spanne. Dié wenners gaan gedurende die Oktober-skoolvakansie aan die Nasionale Kampioenskappe in Vereeniging deelneem. Sterkte aan al die afrigters en speelsters.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first