Merensky maak Gimmies bang

16 August 2017  Read: 49

 

Hoërskool Merensky se rugbykorps is duidelik en seker op koers. Dit volg nadat hulle kookwater O/15 rugbyspan weer hierdie naweek bewys het dat hulle ‘n krag is om van rekenskap te vat. Hierdie rugbyseisoen het die wipplank-stryd tussen Ben Vorster en Merenksy se twee O/15-spanne almal in die dorp op die punte van hul sitplekke gehou. Dit was eindelik in die Limpopo-finaal wat Ben Vorster naelskraap die Plasies ore aangesit het. Na hierdie naweek se vertonings is dit die mening onder kenners in die plaaslike kringe dat daar wéér ‘n wedstryd tussen die twee reuse binnekort verwag word.
Die Plasie O/15-seuns het die naweek in die Verseker Beeld Trofee kampioenskappe op Potchefstroom, teen Potchefstroom Gimnasium (Die Gimmies) kragte gemeet. Dit was in die uitspeelbeen van hiérdie gewilde kompetisie.

Die plaaslike vyftiental het aan verwagtinge voldoen en met ‘n 31-21 oorwinning, van die veld afgestap.  Danie Potgieter spog met 3 drieë, terwyl WB Grobler en Kabelo Mabotje ook elkeen vyf punte bygedra het. Andru Miller het drie van die doelskoppe deur die pale gejaag.

Die volgende naelbytstryd vind more (op Saterdag, 12 Augustus) in Witrivier plaas wanneer dié wenspan teen Hoërskool Rob Ferreira in die kwartfinaal uitdraf.

Hierdie oplewing kan onder andere toegeskryf word aan die onvermoeide ywer en voortdurende vaardigheidsontwikkeling van Merensky se rugby afrigters.

Afrigters Clinton Gerber, Johannes Seerane, Pieter van der Merwe, Frik Dohse en Jece Swart het reeds in Januarie met die Wêreld Rugby Vlak 2 kursus begin. Na die inisiële afrigtingskursus moes elkeen ‘n seisoen se wedstryde analiseer en oefeninge beplan om sodoende foute en tekortkominge in die spel om te keer.

‘n Portfolio van ses wedstryde en oefeninge is in ‘n finale assessering voorgehou, waarna ‘n praktiese oefensessie aangebied moes word wat ook beoordeel is. Al vyf hierdie manne het hul opleiding suksesvol voltooi.

Nog drie afrigters het ook hul Wêreld Rugby Vlak 1 afrigterkwalifikasie se teorie- en praktiese afdelings suksesvol voltooi, hulle is mnre. Arno Last, Richard Coleman en Corrie Large.

Op die sewesfront is dit eweneens woelig met drie afrigters wat hul 7’s Wêreld Rugby Vlak 1-kwalifikasie ontvang het op 28 Julie by Loftus. Mnre. Clinton Gerber, Johannes Seerane en Frik Dohse het ook hier hul merk gemaak.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first