Bokke laat mense vra: Ja, nog enetjie, dankie

Die Springbokke se afrigters en ondersteuners vra nou, soos die kêrel in ʼn TV-advertensie, “nog enetjie”.

ʼn Derde oorwinning in die reeks van drie toetse teen Frankryk sal daarop dui dat wen vir die nasionale span weer ʼn gewoonte begin raak en dat Suid-Afrika se rugbystadions binnekort weer stampvol sal wees.      

Ná Saterdag se toets in Johannesburg speel twéé SA krieketspanne Sondag in Engeland in internasionale wedstryde: die Proteas in ʼn T20-kragmeting teen Engeland en die nasionale vrouespan in ʼn eendagwedstryd teen Pakistan.

Al dié uitsoeksport word regstreeks op televisie uitgesaai. Voeg daarby die eerste toets tussen Nieu-Seeland en die Britse en Ierse Leeus, asoook ʼn rits ander rugbywedstryde, en niemand sal kla as reën die meeste mense dié naweek binnenshuis hou nie.