Hoe lank moet ons oumense wag?

25 September 2018  Read: 358

 

Die pensionarisse van die Pioniers aftreë-oord in Grens Straat is hoogs onsteld nadat daar aan hulle beloftes deur verskeie plaaslike politici gemaak is wat ‘n jaar later steeds nie na gekom is nie. Die inwoners van hierdie kompleks voel afgeskeep deur die munisipaliteit asook hul eie DA Raadslid, wat blykbaar toegelaat het dat die geboue en dele van die terrein so verval, dat hulle as bejaardes nie meer menswaardig voel nie.

Nie een van die een-slaapkamer woonhuise het geute langs hul dakke nie. Die munisipaliteit het blykbaar ‘n maand terug die geroeste geute verwyder en nuwes op die perseel aangebring. Hierdie nuwe geute lê nou al amper ‘n maand lank langs die huise. Die één huis wat wel hierdie week ‘n stukkie geut ontvang het, word steeds oorstroom tydens swaar reënbuie want die geute is nie behoorlik gemonteer nie.

Reënwater storm nou by die dakke af en verspoel die loopvlakke van die voetpadjies langs die huise. Randstene en sement trappe het begin lig en dele van die inwoners se mure begin nou waterskade opdoen. Daar is geen geute om die reënwater weg te voer nie en die oumense is nou te bang om op die padjies te loop uit vrees dat hulle dalk ‘n noodlottige besering sal opdoen, sou hul op die nat sement gly en val.

“Dit wil voorkom of ons oumense net deur die politici vergeet word. Ons is maar net goed genoeg vir hulle wanneer dit by verkiesingstyd kom. Na al die gekla by ons eie wyksraadslid, na al die besoeke deur die DA se topbestuur, die briewe, die koerantberigte en die persoonlike ontmoetings met verskeie amptenare, word daar steeds niks aan die situasie gedoen nie,” het twee van die inwoners gesê.

“Ons moes soebat en smeek om uiteindelike hierdie lemmetjiesdraad bo op ons bestaande veiligheidsheining te kry. Dit het letterlik maande geneem van amper daaglikse oproepe na die wyksraadslid voordat dit uiteindelik gedoen is. En dit was eers nadat Lindy Wilson, die DA se adjunk skadu-minister van gesondheid saam met Rene Pohl van die distriksmunisipaliteit, hier by ons kom vergader het.”

Dié besoek deur Wilson was in Februarie vanjaar. Tydens hierdie aangeleentheid het Wilson al die inwoners persoonlik ontmoet en elkeen van hul klagtes op rekord gesit. Sy het saam met die Bulletin deur die perseel beweeg en al die probleemareas genoteer. Haar besoek is met ‘n beloftes dat sy die situasie sal opneem met die munisipaliteit afgesluit. Die wyksraadslid wat verkies om nie in die media genoem te word nie, het nie hierdie vergadering bygewoon nie. Hy het wel die dag na Wilson se besoek, saam met die DA se Jacques Smalle by die bejaardes gaan besoek aflê.

“Destyds toe hy verkies wou word as wyksraadslid, het al wat ‘n lamppaal in ons area, sy gesig op ‘n plakaat vertoon. Hy het belowe om ons op te pas en namens almal in sy wyk optetreë. Hy is veronderstel om ons te beskerm en uit te kyk vir ons – sy mense. Ons kan verstaan as jy soveel besighede het wat jou besig hou dat jy net bloot nie tyd kry om by ons uit te kom nie, maar moet dan nie aan ons dinge belowe wat jy nie sal kan na kom nie.”

Sewe maande later en nog niks het verander by Pioniers woonstelle nie. Die situasie word inteen-
deel net vererger deur die laksheid van die politici.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first