Wat het in Agatha Straat gebeur?

17 September 2018  Read: 62

 

“Ek kan nie met sekerheid sê dat ‘hulle’ my dogter wou ontvoer nie, maar ek is verlig dat Steven daar gestop en my meisiekind in sy motor gelaai het,” het Marlene van Zyl verlede week aan Bulletin gesê.
Dit na afleiding van die dorp se gegons oor die “mislukte ontvoeringspoging” op die Graad 11 leerder van die Hoërskool Ben Vors-ter, Dinsdagoggend, verlede week. Oomblikke na die voorval het die gerugte reeds die rondtes begin doen van die blanke meisie wat na bewering deur ‘n groep swart mans amper-amper in ‘n taxi gelaai is.

Volgens van Zyl is dit nou nog nie bekend presies wat gebeur het, en of dit werklik ‘n poging om haar dogter te ontvoer was nie.

“My dogter het van my huis af skool toe gestap soos wat sy elke oggend doen. Ons woon net ‘n blok weg van die skool af so dit is niks nuuts nie. Sy was net om die draai uit die sig van my huis uit toe daar ‘n taxi voor haar op die sypaadjie in draai. Sy het toe gestop en begin agteruit loop. Dit is toe dat Steven Jacobs aangery kom en vir haar die toeter druk. Hy het haar in sy motor gelaai en skool toe gevat.”
Volgens van Zyl se dogter het die deur van die taxi oopgegaan net voordat sy in Jacobs se voertuig in geklim het en sy beweer die insittendes het toe vir haar gelag. Volgens haar was daar net vier mans in die taxi.

Op sy beurt vertel Jacobs dat hy oppad kleuterskool toe was om sy kinders af telaai toe hy die meisie langs die pad, in Agatha Straat, sien stap. Toe die taxi van die pad aftrek en op die sypaadjie voor haar gaan stilhou, het hy sy motor laat versnel en die toeter gedruk om haar aandag te trek.
“Omdat ek die meisie en haar ma goed ken, het ek aangebied om haar ‘n geleentheid skool toe te gee. Sy het in my motor in geklim en ek het haar gevra of ek haar skool toe of na haar huis toe moet neem. Sy het toe gevra om skool toe te gaan en ek het haar daar gaan aflaai.”

Jacobs het ook erken dat hy nie met enige sekerheid kan sê of die insittendes van die taxi die meisie wou ontvoer of nie. Hy waarsku tog dat mens versigtig moet wees en as iets uit plek uit lyk of voel, mens tog moet aksie neem. “Net hierdie week hoor mens oral oor die radio en die televisie van kinders wat ontvoer is, of wat amper ontvoer is, en dit maak mens nogal heel op jou hoede. So toe ek ‘n taxi sien met ‘n deur wat oopgaan en ‘n skoolmeisie wat agteruit loop, het ek gevoel ek moet eerder stop.”

Van Zyl hou egter vol dat iets definitief verdag is aan die manier waarop die toneel homself afgespeel het. “Vir wat sou die taxi dan net daar op die sypadjie stop? Dit is mos nie die taxi-staanplek nie? En vir wat sou hulle vir haar staan en lag? Nee wat, ek is net dankbaar ek het my meisiekind geleer om nie in vreemde voertuie in te klim nie.”

Die meisie het intussen oor die naweek berading ontvang en teen druktyd is daar nog geen bevestiging oor ‘n polisie ondersoek nie.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first