Oud-Vossie is Jongboer van die Jaar

13 September 2018  Read: 99

 

Hannes Wolvaardt (30) is ‘n jong boer uit die Letsitele vallei se geweste wat ‘n naam gemaak het verlede week toe hy as die Agri-Limpopo Toyota Jongboer van die Jaar aangewys is. Wolvaardt het sy toekenning tydens in Nylstroom ontvang.

Die plaas Wolvaardt Boerdery is geleë op die Giyanipad net buite Letsitele en word deur Hannes, sy broer Riaan en dié se vrou Jolene Wolvaardt besit en bestuur. Hulle fokus is grootendeels op groen soetrissie wat hul onder-net groei en aan die nasionale mark verskaf. Hul plant ook kool, botterskorsies en lemoenpampoentjies, maar het vanjaar net op kool en soet groenrissie gefokus as gevolg van die water te kort wat die streek tans ondervind.

Wolvaardt is deur die Constantia Boerevereniging genomineer vir die toekenning en volgens hom het hy nie in sy wildste drome verwag om die prys te wen nie. “Dit is vir my ‘n baie groot voorreg en ‘n eer om die Limpopo streek se jongboer wenner te wees,” vertel hy. “Nie net was die prys vir my ‘n eer nie, maar ek is die geleentheid gebied om bietjie nuwe kontakte in die bedryf op te bou en by ander boere te leer oor verskeie tegnieke en ‘tips’ aangaande my bedryf.”

Hannes het in 2006 aan die Hoërskool Ben Vorster matrikuleer waarna hy op Tswane Universiteit van Tegnologie (TUT) sy Algemene Landbou opleiding voltooi het. In Februarie vanjaar het Hannes verloof geraak aan Caela, die jong dame met wie hy komende Saterdag op Kallie Erasmus se plaas in Letsitele die huweliksknoop sal deurhaak.

Later vanjaar sal Wolvaardt aan die nasionale Jongboer van die Jaar kompetisie deelneem teen ander provinsiale wenners. Far North Bulletin en ons span wens hom geluk en voorspoed toe.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first