Wat van die Steinway?

31 October 2017  Read: 119

 

Diegene wat Mari Weber en medespelers se drama/komedie op 11 Oktober in Hoërskool Merensky se skoolsaal gemis het, kan die trane afdroog: die verhoogstuk word herhaal by die Taste of Tzaneen Fest wat 3-5 November by Fairview Lodge aangebied word. Dié vertoning glip nommerpas in die tema en doel van die fees: om dit wat plaaslik en wonderlik is, trots te vertoon.

Die spelers is, benewens Mari Weber, Carel Mouton, Alida du Preez en Anriette van Rooyen. Wat die opvoering baie spesiaal maak is dat Weber hier saam met drie van haar eie oud-drama-studente optree. Mouton en Du Preez het hul dramalisensiaat onder haar mentorskap verwerf en Van Rooyen het as leerling op skool onder Weber se bekwame hande, al die geheime en truuks van dinamiese drama geleer en haar drama-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het al in verskeie films gespeel en ook in Binnelanders haar buiging gemaak.

Vir die gala-optrede by Merensky was die hoofdoel om die geskiedkundige Steinway-klavier in die skoolsaal te herdenk. Dié ou dame (met verwysing na die klavier) is onlangs gerestoureer en kan lustig verder getokkel word.

Kaartjies vir die “gesinsdrama wat die lagspiere sal kielie”, kan by die deur gekoop word teen R100 of bespreek word deur Me Bobbi Gerber van iinfo by Fairview Lodge, te skakel by 082 331 5476. Diegene wat kaartjies bespreek en ontvang, het die voordeel om nie ingangsfooi by die hek te betaal nie. Die hekfooie is geldig tot 17:00 albei dae.

Vir lekker lag en ontspan op Saterdag, 4 November om 16:00, bespreek so gou moontlik!

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first