Planne in die pyplyn vir hospitaal

19 September 2017  Read: 1572

 

Die privaathospitaalgroep, Clinix, het in Februarie vanjaar finaal hul Phalaborwa hospitaal se deure gesluit na maande se bespiegelings. Sonder enige behoorlike gesondheidsorgfasiliteit in die dorp, leef Phalaborwa se inwoners letterlik op genade. Sou daar ‘n ernstige mediese noodgeval wees, sal pasiënte per ambulans (‘n uur se ry) of per helikopter (indien daar een beskikbaar is) na Mediclinic Tzaneen gejaag moet word om betyds die korrekte behandeling te kry.

Die fasiliteite (eiendom en die geboue) waaruit die Clinix-privaat hospitaal in Phalaborwa bedryf was, behoort aan die Limpopo Departement van Gesondheid, en is aan dié groep gehuur in gevolge ‘n openbare privaat-vennootskapsooreenkoms tussen die twee partye. Toe die privaat gesondheidsorggroep die eiendom ontruim, het hulle al hul mediese toerusting en beddens saam met hulle geneem en die leë dop gelos soos dit vandag daar staan.

Gesondheids woordvoerder, Derick Kganyago, het aan Bulletin verduidelik dat daar planne in die pyplyn is om dié verlate fasiliteit in ‘n primêre gesondheidssorg sentrum te omskep. “Die rede waarom hierdie perseel nou nog verlate staan, is omdat die Clinix besluit skielik gebeur het. Dit het ons op die agtervoet gevang. Omdat Clinix se besluit ons verras het, het ons nie in hierdie jaarlikse begroting voorsiening gemaak vir hierdie probleem nie, maar ons kyk beslis na die beste, en vinnigste oplossing voorentoe.”

Lid van die Private Hospitaalraad van Phalaborwa, mnr. Hans Harri, het aan Bulletin gesê dat hulle (die raad) nou kyk na maniere waarop die hospitaal geheropen kan word. Volgens hom het Clinix se bestuursraad verduidelik dat die deure gesluit is oordat daar nie genoeg ondersteuning van die staat verkry is nie. “Clinix het ook aansienlik minder staats-pasiente ontvang as wat daar aanvanklik voor beplan is. Ons weet hierdie is nie die optimale situasie vir ons gemeenskap nie en verstaan die erns van die saak.”

Tydens Bulletin se besoek aan die verlate hospitaal het ons gemerk dat daar steeds sekuriteitswagte aan diens  is. “Daardie wagte is indiens van dieselfde sekuriteitskontrakteur wat al die jare lank die perseel oppas. Hulle is onder kontrak verbonde aan die Departement en pas dus steeds ons eiendom vir ons op,” het Kganyago bygevoeg.

Teen druktyd het ons steeds geen terugvoering vanaf Clinix ontvang nie. Ons het wel met hul skakelpersoon, Nofimilo Mabuza, in verbinding getree en sal volgende week ‘n opvolg publiseer.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first