Lino is wéér op sy stukke

19 September 2017  Read: 67

 

“As hy regop sit en vra vir ‘n burger en ‘n Coke dan moet julle weet hy is weer op sy stukke.” So het Chantelle de Carvalho die wonderlike nuus van haar man se herstel aan die Tzaneen gemeenskap Dinsdagmiddag meegedeel.

Dit nadat Lino de Carvalho, bekende plaaslike sakeman, verlede week ‘n aneurisme gehad het en in Mediclinic Tzaneen opgeneem is. Hy is later per ambulaans na UNITAS in Pretoria vervoer waar hy in teater behandel is. Lino het later ‘n beroerte gekry en is wéér teater toe gejaag. Sedertdien het die gemeenskap ‘n gebedsgroep oor die sosiale platform WhatsApp gestig en is honderde gebede en ondersteunende boodskappe aan die familie opgedra.

Chantelle het laat weet da thy nog sukkel om sy woorde reg uit te spreek en vir haar lag wanneer sy nie mooi verstaan wat hy vir haar sê nie. Sy gesin was by hom oor die naweek. Die buisvoeding is ook verwyder, maar hy kan nog nie soliede voedsel in neem nie. Teen druktyd gister het Bulletin verneem dat ‘n onlangse “CT” skandering getoon het dat daar geen bloeding meer op sy brein is nie en die dokters voel gerus dat hulle die komende Maandag aanhom sal kan opereer.

“Hy sukkel om gewoond te raak aan die ‘Purity kos’ maar dinge lyk goed en hy is weer vol grappies. Hy praat al hoe meer maar gebruik nogsteeds nie sy bene. Dit sal nog kom, hy is nog bietjie lui.”
Die gemeenskap word gevra om steeds aan te hou bid vir Lino se volle herstel. Bulletin sal die gemeenskap op hoogte hou van enige verdere verwikkelinge.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first