Ons “Sugarman” steeds in hoësorg

08 September 2017  Read: 3047

 

Bekende Tzaneener en barmhartige sakeman, Lino de Carvalho, eienaar van die bekroonde Sugarhill en Sugarloaf OK MiniMark, is steeds in die UNITAS hospitaal in Pretoria se hoësorg eenheid.

Dit nadat hy Dinsdagmiddag ‘n aneurisme gehad het en in Mediclinic Tzaneen opgeneem is. Volgens sy vrou, Chantelle de Carvalho, is Lino vroeg die volgende oggend per ambulaans na UNITAS vervoer. Daar aangekom is hy in teater behandel vir die annurisme maar het later ‘n beroerte gekry en is wéér teater toe gejaag.

Woensdag het Chantelle ‘n hartroerende boodskap oor die sosiale platform WhatsApp uitgestuur waarin sy die gemeenskap van Tzaneen maan om haar liefling eggenoot in hul gebede te hou. Teen druktyd gister, het Bulletin verneem dat Lino steeds in hoësorg onder streng toesig gehou word.

“Die chirurg het laat weet dat hulle nie in die volgende twee weke sal kan opereer om die aneurisme onder beheer te kry nie. Die fisio was wel vanoggend al by hom. Hulle het sy hand vasgebind want hy trek die pyp uit sy neus uit vir voeding. Dit is al wat ek tot nou toe nog weet,” het Chantelle laat weet.

Intussen het honderde opbouende boodskappe van die gemeenskap af ingestroom en daar word gebid vir sterkte aan Chantelle en haar gesin deur hierdie moeilike tyd. Verdere inligting sal op ons webtuiste verkry word soos wat Chantelle ons oor verwikkelinge ingelig hou.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first