Eureka vir bessies

11 September 2017  Read: 127

 

Dit is die begin van die bloubessieseisoen by Tzaneen Bloubessies, net buite Tzaneen, waar daar groot planne is met hierdie gesogte produk. Henry Hayes het aanvanklik begin met die Rabbiteye-tipe bloubessie wat gedy het in die Tzaneenomgewing. Later het hy aangesluit by die BerryWorld SA-groep, baanbrekende Suid-Afrikaanse bessiemaatskappy, wat hom voorsien van sy plantmateriaal en aan wie hy sy produk lewer.

Die huidige oes kom van kultivars gekweek in die staat Florida (VSA) met laer kouebehoefte as die kultivars wat gewoonlik in die Noordelike Halfrond verbou word, spesifiek ‘Snowchaser’ en ‘Jewel’. Daar is egter tans groot uitbreiding in die hidroponiese verbouing van ‘n splinternuwe kultivar wat groot opslae maak oorsee weens die reuse korrel van die bessie: dit is die Australiese kultivar ‘Eureka’.
So nuut is hierdie kultivar, dat dit nou eers in NIeu-Seeland aangeplant word; laasjaar is die eerste besending van ‘Eureka’ bloubessies uit Australië na suidoos-Asië gestuur waar dit, soos verwag is, met groot geesdrif begroet is. By Tzaneen Blueberries word 50 000 van hierdie soort bloubessie tans aangeplant met ‘n verwagte eerste oes oor ‘n jaar.

“Die nuwe oes lyk goed, dit beloof om  ‘n goeie uitvoerseisoen te wees. Verlede jaar het ons verwagtinge oortref,” sê Henry Hayes. “Ons is in die bevoorregte posisie dat die aanvraag uit Europa groter is as wat ons kan lewer. Op die plaaslike mark is verbruikersaanvraag nog maar traag, die prys sal hopelik nog afkom. Hopelik sal volumes groei soos daar al hoe meer bloubessieboere die mark betree.”  

Europa voorsien tans nog hul eie bloubessies, en hierdie vroeë Suid-Afrikaanse bessies word plaaslik bemark by supermarkte deur Eurafruit, maar van volgende maand af is hulle bestem vir Europese verbruikers. Suid-Afrika se bessieproduksie vir uitvoer neem met rasse skrede toe, van ‘n skamele 90t wat in 2001 uitgevoer is tot 2 569t verlede jaar.

 

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first