Leer uit Zimbabwe se foute

10 September 2017  Read: 64

 

Die grondonteiening sonder vergoeding debat is op almal se lippe hierdie laaste paar maande. Die Zimbabwe-situasie word onder die boeregemeenskap bespreek na afloop van ‘n waarskuwing wat aan SA boere deur die Zimbabwieër, Pete Steyl, gerig is. Steyl is die president van die Commercial Farmers Union of Zimbabwe.

Volgens Steyl het Zimbabwe se boere ten volle geglo dat hul grondwet hul teen onteiening sonder vergoeding sou beskerm. Hulle het ook geglo dat die internasionale gemeenskap ʼn ekonomiese ramp sou afweer, en arrogant verkondig dat die vryemark grondhervorming moes dikteer. Steyl is bekommerd oor hy na bewering soorgelyke argumente op plaaslike bodem hoor.

In reaksie op Steyl se waarskuwing het Leon Borcherds, president van Agri Limpopo, gesê dat sy organisasie reeds sedert 2013 intens gemoeid is met die implementering en verfyning van die grondhervormingsmodel van die Nasionale Ontwikkelingsplan.

“Juis omdat Limpopo se kommersiële boere besef dat n Zimbabwe-situasie in Suid-Afrika nie onmoontlik is nie”, het Borcherds gesê.

Dr Theo de Jager, voorsitter van Agri Limpopo se beleidskomitee vir Landbou-ontwikkeling en ook lid van die Afrika-Unie se Land Policy Initiative, sê dis presies dieselfde argumente wat tot dusver teen die grondhervormingsmodel in Hoofstuk 6 van die NOP geopper was.

Dit het daartoe gelei dat Agri Limpopo  met die Nasionale Beplanningskommissie, AFASA en die mega-boeregroep, Pro-agri, kragte saamgesnoer het om hierdie model te verfyn vir implementering.

“Limpopo se boere het ‘n unieke verhouding met ons noordelike buurman, en voel ‘n lotsgebondenheid met Zimbabwe boere,” sê Willem van Jaarsveld, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri Limpopo.

“Talle Zimbabwiërs woon en werk in ons provinsie, en soos Zimbabwe, het Limpopo ‘n landbougedrewe ekonomie. Ons het al behoorlik onder grondeise deur-geloop, en met vier van die nege voormalige tuislande tussen ons plase is Limpopo se boere veel meer blootgestel aan landelike armoede en die uitdagings van kleinskaalboerdery en kommunale landbou. Daarom is ons ernstig oor grondhervorming en veral dat dit moet slaag”.

Borcherds het bygevoeg dat Suid-Afrikaanse landbouers en landbouleiers aandag moet gee aan Steyl se waarskuwing. “Lesse geleer in Zimbabwe kan ons help om ʼn ‘Zimbabwe’ in SA te vermy.”
— Agri Korrespondent

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first