Inligting sal vir ons die oorhand gee

05 September 2017  Read: 521

 

Projek Nehemia is Maandagaand tydens ‘n gemeenskapsvergadering by Fairview Lodge net buite Tzaneen bekend gestel. Gasspreker, oud-Generaal Majoor van die Suid-Afrikaanse weermag, Roland De Vries, het ‘n groep boere toegespreek oor die belangrikheid van gemeenskapsveiligheid in die landelike gebiede waar plaasaanvalle weereens besig is om te styg.

Volgens De Vries is die probleem nie so maklik oplosbaar soos daar aangeneem word nie. Tog is die oplossing ‘n eenvoudige een. “Dit gaan oor kommunikasie en inligting werwing,” het hy verduidelik. “Die krimineel beweeg in ‘n onsigbare wêreld waarvan ons nie bewus is nie. Vir ‘n fraksie van ‘n oomblik betreë hulle ons wêreld, moor, roof en martel, en dan verdwyn hy weer terug in sy onsigbare wêreld in. Ons moet hom daar gaan vind en daar, in sy eie wêreld, dit vir hom ongemaklik maak.”

Die oud-weermagsman is van mening dat die probleem lê in die manier waarop huisbrake, plaasaanvalle en diefstal hanteer word. Volgens hom is die samelewing huidiglik te reaktief.

“Ons het heinings, alarms, whatsapp groepies, plaaswagte en buurtwagte in plek. En nou wag ons vir die aanval om te gebeur in stede daarvan om die aanval te kéér voordat dit gebeur. Dit help niemand niks as die plaaswag by jou huis aankom nadat jy klaar aangeval en beroof is en die krimineel die pad gevat het nie. Ons moet proaktief begin raak en hierdie kriminele uit ons samelewing uitdryf deur dit vir hom ongemaklik hier te maak.”

Die kruks van die saak is die gemeenskap weet nie genoeg nie. Bure ken mekaar nie eers nie en baie min mense weet wat aangaan in die huis langs hulle, wat nog te sê van die dorp self. Daar is lede van die gemeenskap wat nie die koerant lees nie want “daar is genoeg geweld en negatiewiteit in die lewe ek wil nie myself nog meer depressief maak nie.” Inligting is die enigste manier waarop die krimineel gestuit gaan word.

Projek Nehemia is gemik daarop om inteligensie by mekaar te maak en strategiese beplanning in plek te sit om sodoende doeltreffende oplossings vir gemeenskapveiligheid te bied. Die konsep is gebasseer op ‘n hoogs effektiewe model wat suksesvol geimplimenteer is in ander gemeenskappe waarby De Vries en sy span betrokke was. Vir meer inligting oor hierdie projek en die stappe wat nou in Tzaneen en omgewing gevolg gaan word vir jou en jou gesin se veiligheid, besoek gerus jou naaste AfriForum tak of besoek hul webtuiste.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first