Hoe gemaak met Zim-werkers?

11 July 2017  Read: 458

 

Georganiseerde Landbou in Limpopo is bekommerd oor die impak wat veral Zimbabwiese werkpermitte, wat onder die ZSP (Zimbabwian Special Permit)- stelsel toegestaan is, en wat teen einde Desember 2017 gaan verval, op die arbeidsituasie in die provinsie gaan hê. Verskeie ander kategorie werkpermitte sal teen verstryking daarvan ook nie weer hernu word nie. Dit sal die situasie vererger.

Die Departement van Binnelandse Sake het nog geen aanduiding gegee dat daar `n alternatiewe permitstelsel gaan kom wat die bestaande stelsel gaan vervang nie. Vorige aanduidings was dat die permithouers by verstryking van hul permitte na Zimbabwe sal moet te-rugkeer.

Die stap is daarop gemik om meer werkgeleenthede vir SA burgers beskikbaar te stel. Die Dept van Arbeid is hiermee getaak. Die feit is dat Suid Afrikaners nie bereid is om sekere werk op plase te doen nie. Dit is by herhaling deur die Departement waargeneem tydens die prosesse wat gevolg moet word voordat landbou toestemming kry om buitelandse werkers op ‘n permitstelsel in diens te neem. Allerweë word erken dat plaaslike werkloses eenvoudig nie meer plaaswerk wil verrig nie, maar telkens word hierdie feite ignoreer ten gunste van ‘n politieke agenda.

Daar is konserwatief geskat sowat 500 000 Zimbabwiërs wat wettig en onwettig in Suid Afrika woon en werk, wat teen vroeg 2018 gedeporteer moet word na `n land wat nie die ekonomiese vermoë het om hulle te akkommodeer nie.

Dieselfde ekonomiese omstandighede wat hulle na SA gedryf het, bestaan steeds in Zimbabwe. Dit het selfs verder verswak. Met ‘n grens wat geen immigrasiebeheer moontlik maak nie, sal hierdie mense een-voudig as onwettiges die land weer binnekom. Hulle gaan in hulle massas op plase in Limpopo opdaag op soek na werk. Hierdie keer sonder dokumentasie van enige aard.

Indien hierdie mense in diens geneem sou word, is die boer onmiddelik skuldig aan die oortreding van immigrasie- en arbeidswetgewing. Die sosio-maatskaplike en sosio-ekonomiese probleme wat vroeg in 2018 op ons noordelike grens gaan ontstaan, sal veiligheidsprobleme vir grondeienaars langs daardie deel van die  grens laat toeneem.  Hierdie situasie gaan geweldige druk plaas op SAPD-bronne soos mannekrag en voertuie. Misdaadbekamping in die hele Limpopo gaan ‘n groter probleem word as wat tans die geval is.

Dit is onrealisties om te verwag dat die SANW die situasie moet verlig. Onder huidige omstandighede slaag hulle nie daarin om onwettiges uit die land te hou nie, waarom sal groter getalle uitgehou kan word?

Die meganisme wat tans werk en wat in die toekoms toenemend in werking sal wees, is dat ‘n honger mens sal migreer na ‘n ekonomie wat geleenthede bied. Hetsy werkgeleenthede of misdaadgeleenthede. Vir Zimbabwiërs bied SA albei hierdie geleenthede.

Georganiseerde landbou het by herhaling daarop gewys dat geen maatreël suksesvol kan wees om toestroming uit buurlande te keer, solank effektiewe grensbeheer nie toegepas kan word nie. Verder is die toejuiging van ‘n mislukte grondbeleid in Zimbabwe presies die teenoorgestelde van wat nodig is om ‘n oplossing vir die toestroming te kry. Die werklike oplossing is ‘n ekonomiese een. Kry die Zimbabwe ekonomie weer aan die gang, skep werk en maak landbou weer so sterk soos wat hy was, dan sal Zimbabwiërs in hul land bly.

Die beroep op landbou om oplossings te skep vir werkloosheid in SA, sal moeilik slaag solank as wat die effek van verstedeliking, gebrek aan die wil om te werk en die siening dat plaaswerk ‘n minderwaardige werk is en dus nie meer aanvaarbaar is vir baie nie, verreken word in arbeidswetgewing nie.  Politieke voorpratery wat arbeiders net motiveer om “reg” te stem en nie tot groter produktiwiteit inspireer nie, is teenproduktief in die bereiking van indiensnemingskoerse in landbou. Landbou sal graag Suid Afrikaners in diens neem wat uitsette lewer vergelykbaar met die van buitelandse werkers. 

Intussen steun die SA ekonomie swaar op kwaliteit arbeid uit ons buurlande. Landbou sal graag wil sien dat die regering die feite wil erken, dit moontlik maak dat landbou sulke mense wettig indiens kan neem en so verseker dat landbou sy bydrae lewer tot die land se ekonomie deur middel van volhoubare voedsel-produksie.  
— Agri Limpopo

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first