Eerste Wolkbergfees ‘n sukses

14 June 2017  Read: 61

 

Die eerste Wolkberg Landboufees is die naweek op die terrein van Wolkberg CVO-skool net buite Tzaneen, gehou. Soos verwag, is die fees baie goed ondersteun en het daar honderde besoekers op die dag deur die terrein se hekke gestroom.

Daar was stalletjies wat goetertjies en dietjies en daaitjies te kope gehad het en hope volmaak vir die kleinspan by die Spur Kiddies Corner. Ouers het met geruste harte hul kinders in die sorg van die oppassers agter geslote hek gelos terwyl hulle self die feesterrein deurgestap het.

Gaskunstenaar, Hans Drommerdaris, het as aankondiger en seremoniemeester vir die dag opgetree terwyl Marie Minnaar en Joe F later die aand vir vermaaklikheid gesorg het.

Fondse wat by die inganghekke ingesamel is, sal aan die Wolkberg Akademie geskenk word vir die opgradering van die skoolgebou en die oprig van nuwe klaskamers. Teen druktyd is die totale bedrag nog nie bekend gemaak nie.

“Hierdie was die eerste jaar wat ons die fees beplan het en vir party van ons was dit ‘n baie groot leerskool,” het Jacques Smuts, een van die organiseerders, Maandag aan Bulletin gesê. “Ons het baie geleer en die terugvoering van die publiek af is baie belowend. Met die volgende fondsinsamelingsprojek maak ons weer so, maar dan net bietjie
groter en beter.”

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first