Roekelose Vuurwapenhantering

17 May 2017  Read: 93

 

Limpopo Landbou Forum – Veiligheid (LLFV), neem kennis van die onlangse gevalle waar plaasarbeiders na bewering deur boere geskiet is deurdat die arbeiders vir diere aangesien is. Dit is jammer dat sulke voorvalle voorkom in tye waar die goeie arbeidsverhoudings op plase van verskeie oorde onder verdenking geplaas word.

Verder word dit betreur dat hierdie geïsoleerde voorvalle aan die groot klok gehang word terwyl nie naastenby dieselfde intensiteit van reaksie kom na wreedaardige martelings tydens plaasaanvalle nie.
Die LLFV betreur dit dat die Limpopo Provinsiale Polisie Kommissaris dit nodig gevind het om alle boere onder dieselfde kamp te skeer deur daarna te verwys dat veral boere roekeloos omgaan met die hantering van vuurwapens.

Die Forum ondersteun verantwoordelike vuurwapenhantering asook die beginsel dat dit waarna geskiet word duidelik identifiseer moet word, seker gemaak word dat dit wel die beoogde teiken is en dat die skoot met veiligheid geneem kan word.

Dit is egter jammer dat die indruk geskep word dat boere roekeloos links en regs skiet. Dit is jammer dat daar ook nie na die volle omstandighede verwys word wanneer hieroor berig word nie, en so word ‘n bepaalde negatiewe beeld geprojekteer op boere.

Die omstandighede waaronder landbouers en hul werkers deesdae leef en werk is spannend vanweë die onveilige omgewing van die platteland. Die SAPD en landelike gemeenskappe poog daagliks om veiligheid te verbeter. Om gevalle soos die in Letsitele te misbruik om wedersyds kritiek uit te spreek is onvanpas en teenproduktief. Limpopo Landbou Forum – Veiligheid doen ‘n beroep op alle betrokkenes om waaksaam, paraat en uiters verantwoordelik te wees onder alle omstandighede. Die vreedsame voortbestaan van plattelandse gemeenskappe is in belang van die hele land.

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first