Plaasaanvalle: tyd om terug te veg?

07 March 2017  Read: 10569

 

Geweldsmisdaad op die platteland, meer spesifiek op plase, het die afgelope maand rekordhoogtes bereik – en niks word daaroor gedoen nie. Hierdie is die mening van die boeregemeenskap regoor Suid-Afrika nadat daar meer as 30 plaasaanvalle lands-wyd verlede maand alleen plaasgevind het.

Sestien lewens is gedurende hierdie aanvalle geëis en alhoewel die polisie nou die probleem erken het, word daar nie juis veel gedoen om aan die plaas gemeenskap hul veiligheid terug te besorg nie.

“Die laaste twee weke was verskriklik erg,” het Afriforum se Ian Cameron hierdie week in ‘n onderhoud aan eNuus gesê. “Dit is duidelik dat aanvalle net meer en meer wreed word en alhoewel ons beter samewerking met die polisie in sekere plekke geniet, sien ons ongelukkig dat hulle op grondvlak nie die hulpbronne het nie. Ons doen dus ‘n beroep op gemeenskappe dat hulle self begin optreë.”

Afriforum hou in Mei ‘n noodberraad oor landlike veiligheid en beplan om verskeie belanghebbendes daarby te betrek om ‘n moontlike oplossing vir hierdie wrede misdade te soek.

Op sy beurt het Henk Maré, Hoof van Afriforum se veldtogte-afdeling, die naweek tydens ‘n motorfiets sametrekking op Fochville teen plaasaanvalle, gesê hulle plaas nou druk op die regering om veiligheidseenhede in landelike gebiede te ontplooi. Hy het met die Sondagkoerant, Rapport, by dié sametrekking gepraat.

“As 400 soldate by die staatsrede ontplooi kon word om die lewe van net een mens te beveilig, glo ons dat daar dieselfde gedoen kan word om ons mense se lewens op die plase ook te beskerm.”
Daar is ook die regering se onwilligheid om oor die saak te praat. Verlede week het die VF Plus ‘n dringende debat oor plaasmoorde aangevra, maar dit is deur die Speaker, Baleka Mbete, afgekeur.
“In 2016 is daar 345 plaasaanvalle aangemeld. Tydens hierdie aanvalle is 70 boere vermoor. Dit beteken dat daar feitlik een aanval elke dag plaasgevind het en ons ‘n boer elke vierde dag verloor het,” het VF Plus leier, Dr Pieter Groenewald aan Rapport gesê.

Die publiek is verstaanbaar kwaad, frustreerd, en moedeloos. “Die feit dat ons moorde begin klasifiseer as ‘n erge-moord of ‘n goeie moord wys dat ons ‘n baie groot probleem het. As ons gaan kyk wat in Balfour en Dullstroom gebeur het dui dit daarop dat die aanvalle net wreder en wreder word. Daar sit nou twee ge-nerasies sonder ouers.”

Generaal-Majoor Roland de Vries, ‘n oud-militaris, is nou deur Afriforum by die stryd teen plaasmoorde betrek. De Vries se swaer, Dr Johan de Lange, was self ‘n slagoffer van ‘n aanval op sy kleinhoewe net buite Vanderbijlpark in 2007. De Lange en sy vrou is aangehou en hul seun koel-bloedig doodgeskiet.
“Na my gesprek met my swaer, en na aanleiding van my ondervinding as militaris het ek begin soek na oplossings vir ons mense om hierdie misdaad te probeer bekamp. Ons benadering is verkeerd want hierdie is nie misdaad nie, dit is oorlogvoe-ring. Hulle modis operandi grens aan revolusionêre oorlogvoering en lae-skaalse insurgensie oorlogsvoering want baie van hierdie misdadigers kom van buite ons grense af,” het De Vries verduidelik.

Volgens hom lê die oplossing in die beginsels van teen-revolusionêre oorlogsvoering en hoe om dit toe te pas en te ontwikkel in hierdie stryd. “Die misdadigers neem die inisiatief, nie ons nie. Dit help nie jy ry met blouligte rond en die misdadigers kan sien waar jy beweeg nie. Hulle is goed georganiseerd, met ‘n goeie inligtingsnetwerk en baie goeie voorbereiding. Ons hoofdrywer moet wees om inligtingsgedrewe operasies te voer teen die brutaliteit waarmee ons gekonfronteer word. Ons kort behoorlike bevel en beheer vanuit ‘n militêre oogpunt.”

Afriforum is huidiglik besig om ‘n sentrale veiligheidsbeheersentrum te stig om die magdom inligting wat deur ge-stuur word te intigreer en te gebruik om proaktief te word.

“Dit is tyd dat ons die inisiatief neem en die wêreld ongemaklik begin maak vir die krimineel daar buite. Dit is die strategie wat ek saam met Afriforum nou gaan begin implimenteer. Ons beskik oor die vermoë om die stryd na die krimineel te neem. Ons praat van vrywilligers wat hulself buite die staatsbestel moet beskerm, want die staat, is nie besig om dit te doen nie.”

 
 
 
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first